Rustige Plaas-Atmosfeer Wegbreek Bestemming in die Vredefort Dome

(English Version)

Desiderius per Flumen is geleë in die landelike omgewing van die wêreld se grootste meteorietimpak-erfenisgebied. Die omgewing waarin Desiderius per Flumen hom bevind staan bekend as Venterskroon, ‘n geskiedkundige nedersetting wat dateer uit die 19de eeu. Desiderius per Flumen is ongeveer 26 kilometer vanaf Parys, en 30 kilometer vanaf Potchefstroom.

Kom ontspan in die landskap wat miljoene jare gelede gevorm is deur ‘n meteoriet, tien kilometer in deursnee, wat ons planeet getref het teen ongeveer 60 000 kilometer per uur. Hierdie gebeurtenis en die natuurlike verwering oor miljoene jare het die Vredefort Koepel (sien *http://www.southafrica.info/about/geography/vredefort-080605.htm) geskep.
*Erkenning aan www.southafrica.info vir die gebruik van hierdie skakel

Die uitsig vanaf die stoepe, eetkamer en sommige slaapkamers, gaan oor die grasperkterasse en die Vaalrivier, teen die agtergrond van die koppies in die Vredefort Koepel. Die voëllewe op die rivier sluit Kolganse, Reiers, Afrika Geelbekeende en Visarende in. Kakelaars, duiwe, vinke, mossies, blousysies, houtkappers, visvangers en nog verskeie ander voëlsoorte besoek die tuin elke dag. 

Die atmosfeer wat hier heers is landelik en is weg van die gewoel, besoedelde lug en stadsgeraas wat 'n mens elke dag teister. Tegnologie uit ‘n vergange era soos die warmwaterdonkie, kerslig en stoofketels is elke dag deel van jou lewe hier. Tog is die fasiliteite en huisvesting van uitstaande gehalte om nie die gevoel van gemak en luuksheid prys te gee nie.

Dit is ‘n baie eksklusiewe en private wegbreekbestemming. 

Die ten volle toegeruste akkommodasie bestaan uit vier dubbelslaapkamers wat smaakvol en met styl toegerus is en daagliks gediens word. Dit is daarop gemik om nie meer as agt gaste per bespreking te huisves nie. Desiderius per Flumen leen hom dus daartoe dat klein vriendekringe en/of gesinne eksklusief en baie privaat hier kan kom ontspan.

Etes word volgens die tradisionele Afrikaanse huishouding se kultuur voorberei en aangebied. Spyskaarte vir alle etes word vooraf met besoekers ooreengekom om voorsiening te maak vir allergië, voorkeure en afkeure.


Besienswaardighede en aktiwiteite in die omgewing:

  • Die geskiedkundige kantoor van die Goudkommissaris (gebou in 1879) wat later as Polisiestasie gedien het en nou die Inligtingsentrum huisves
  • Gratis inligting en media beskikbaar oor hierdie wêrelderfenisgebied se ontstaan, rotsformasies en natuurlewe
  • Die ou Imperial Inn in Venterskroon
  • 4x4 roetes
  • Staproetes
  • Parys en Potchefstroom se toeriste-aantreklikhede
  • Cheetah Teel en Beskermings Projek
  • Koepel Mega Zip
  • Adventure Lisa's Forest Run http://www.forestrun.co.za
  • Sien "Location" blad vir meer inligting